Die huwelik (2)

In ’n vorige blog het ek geskryf oor die huwelik as God se plan vir ons, en onder andere gesê mense skei deesdae te maklik en probeer nie hard genoeg nie, omdat hulle verkeerdelik dink dis makliker om te skei as om weer te probeer. Ek het ook my eie huwelik voorgehou as een wat gelukkig is.

Ek is daaroor so ernstig verkwalik dat ek die blog uitgevee het. Mense meen ek is arrogant oor my eie huwelik asof dit my eie prestasie is, en liefdeloos teenoor mense wat geskei is, want elkeen het ’n eie verhaal, en ek behoort nie van die kant af te praat van goed waarvan ek niks weet nie.

Dalk het jy ook so gedink toe jy my blog gelees het; daarom hierdie opvolg.

Laat ek begin deur te sê ek dank die Here elke dag vir die huwelik wat Hy my gegee het, en die lewensmaat wat ek bevoorreg is om te hê. Dit is genade, en in ’n stukkende wêreld vul dit my met diepe verwondering dat ek só geseënd is. As ek na my eie huwelik verwys, is dit nie om te spog nie, maar om te sê: Dit kán! ’n Gelukkige huwelik is nie een van daardie dinge waaroor almal praat, maar eintlik weet ons almal dat daar nie so iets bestaan nie. Ongelukkig is daar te veel voorbeelde van mense wie se huwelike dit nie gemaak het nie. Ons lees elke dag daarvan in die tydskrifte en sosiale media, en ek wou nie spog deur my verwysing na my eie huwelik nie, maar die wanpersepsie dat ’n huwelik ’n beperkte raklewe het, verkeerd bewys. Soos Paulus gesê het: “Volg my voorbeeld” (1 Kor 11:1, vgl Fil 3:17 en 2 Tim 1:13).

As ek arrogant oor my huwelik geklink het in my vorige blog, vra ek om verskoning.

Ek besef daar is baie ander redes hoekom huwelike in die skeihof eindig waaroor die onskuldige party geen beheer het nie, soos die onwilligheid van die eggenoot om te werk aan die huwelik, of huweliksontrou, of persoonlikheidsversteurings, of seksuele oriëntasie, of middelafhanklikheid, of … Die lysie is sekerlik nog baie langer. Ons leef in ’n stukkende wêreld waarin dinge nie noodwendig uitwerk soos ons gehoop het nie, en waaroor ons ook dikwels nie beheer het nie.

Tweedens wil ek sê dat ek nooit bedoel of gedink het dat alle huwelike sneuwel omdat mense te maklik tou opgooi nie. Daar ís huwelike wat doodloop ten spyte van daadwerklike pogings van die egpaar. As jy die indruk gekry het dat ek op die kantlyn staan en alle geskeides veroordeel, vra ek ook om verskoning. Dit was nie my bedoeling nie.

Derdens het ek nagelaat om te sê dat die harde werk wat in die huwelik ingesit moet word om dit te laat slaag, natuurlik van twee kante af moet kom. Soos die Engelse spreekwoord sê: “It takes two to tango.” En ongelukkig het ’n mens nie beheer oor wat jou eggenoot wil of nie wil doen of belê in die huwelik nie.

So vir dié wat gelukkig getroud is, wil ek sê: Waardeer jou eggenoot. Hy of sy is ’n gawe van God aan jou. In Prediker 9:9 staan: “Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, dié lewe wat tot niks kom nie, maar wat God jou in hierdie wêreld gegee het, die hele lewe wat tot niks kom nie. Dit is wat jou toekom in die lewe, wat jou toekom vir al jou geswoeg in hierdie wêreld.” Moenie jou eggenoot of jou huwelik as vanselfsprekend aanvaar nie, en moenie dink julle sal vanself maar net altyd gelukkig wees nie. Werk aan jou huwelik.
Vir dié wat deur ’n moeilike tyd in jou huwelik gaan, wil ek sê: Byt vas! Probeer nóg ’n keer. Moenie moed opgee op jou eggenoot of jouself of jou huwelik nie. Dis die moeite werd, en met God se genade kán dit wat stukkend is, weer heel word.
Vir dié wat geskei is, wil ek sê: Ons lewe in ’n stukkende wêreld waar dinge soms baie anders is as wat ons gedink het. Dalk is jy flenters gebreek en voel jy soos ’n mislukking. Maar God is ’n God van tweede kanse. Daarom kan jy in God se Naam opstaan en nuut begin, al voel jy nie op hierdie stadium so nie. Want ook vir jóú is daar genade. Dit is tog die evangelie.

9 thoughts on “Die huwelik (2)

  1. Ai Jaco, ons as mens maak dit so ingewikkeld. Jou huwelik is vir baie van ons ń lig in die duisternis. ń Teken dat dit kán werk. Dat God se beginsels steeds werk. Ons het nodig om te sê, daar is nog hoop. Ons kán steeds droom. Sonder voorbeelde soos julle s’n sal baie van ons sinies raak. Net moed opgee.

  2. My verstaan van ‘n opinie is dat in hierdie stukkende wêreld ons keuses het en die ruimte te hê om in liefde van mekaar te verskil
    Daarom is dit vir my moeilik om te verstaan waarom enigeiemand ‘n probleem oor ‘n opinie, gegrond op Christlike/Bybelse waardes te hê. Kernwaardes bly dieselfde, miskien moet elkeen hand in eie boesem steek wanneer ‘n gelukkige huwelik as gawe van bo voorgehou word en dit word as negatief verdraai. Is dit nie tragies dat ons in vandag se tyd maklik kan meeleef as dit sleg gaan nie, maar dat dit n groot uitdaging blyk te wees om ook in die goeie mee te leef en saam dankbaar te wees met eie ookal dit is.

  3. Ek is nou so spyt dat ek nie die eerste bloginskrywing oor die huwelik kon lees nie.
    Ná meer as 30 jaar van getroud wees, kan ek, as ek lees wat jy nou geskryf het, net dink wat jy sou skryf en baie keer staan ek ook verstom oor ‘n huwelik wat gesneuwel het voor dit nog werklik gestaan het.
    Soos jy, loof ek God dat my huwelik bly staan het, want in so ‘n tydperk het jy beslis deur kalm waters gevaar, maar ook deur die ergste storms denkbaar.
    As ek nou terugkyk, is ek dankbaar dat beide van ons elke keer bereid was om weer te probeer, bereid was om weer eens hard te werk, weer eens die minste te wees omdat ons huwelik en ons huisgesin vir ons belangrik was en is. En net soos jy kyk ek nie neer op hulle wat tou opgegooi het nie. Dit is en bly maar net genade.
    Dankie vir hierdie bliginskrywing.

    • Dankie Toortsie. Die sewe sakke sout het ‘n mens soms plat teen die grond. Maar soos jy sê, dit vra bereidheid om weer te probeer, harde werk en minste wees omdat die alternatief nie ‘n opsie is nie.
      Seën vir jou huwelik! En baie genade en vreugde!

  4. Liewe Jaco,
    Eerste van alles – ek respekteer jou geweldig baie as skrywer, mens en leier en ek het verál baie respek vir jou oor hierdie bloginskrywing. Ek is nie een van dié wat veroordeel of dink jy is grootpraterig nie; inteendeel – ek wens ek kon oor my eie huwelik spog! Ongelukkig val ek in die “moedverloor”-groepie… wat my by my volgende punt bring:
    Soms gebeur dit dat probeer net nie meer ‘n opsie is nie. Soms is skei al wat oor is. Dít is nié, soos steeds deur baie mense geïmpliseer word, ‘n maklike uitweg nie. Dit is eintlik, vir die meeste van ons, presies die teenoorgestelde. En ek wil die volgende in liefde verduidelik, want ek was tot baie onlangs iemand wat nie in skei geglo het nie.
    Om tot ‘n egskeiding oor te gaan beteken jy sê jy kan nie meer nie. Dit beteken jy gee op en jy maak alles wat jy en jou maat saam opgebou het, onklaar. Dit beteken jy en jou maat verloor ‘n deel van julle lewe sonder dat julle enigiets het om daarvoor te wys en dat julle elkeen op julle eie waarskynlik heeltemal van voor af moet begin. Dit plaas jou vriende in ‘n ongemaklike posisie, want hoe nou gemaak? Familiebande met dikwels wonderlike skoonouers, swaers en skoonsussies word beskadig en gesny. Kinders, diere, alles word ontwrig. En in die middel van dit alles sit twee mense wat só seer het en só moeg is, en wat ‘n leeftyd se mooi herinneringe met hulle saamdra van die maat wat toe nié saam met hulle sou oud word nie en toe nié daar sou wees deur dik en dun nie. En dit is ook nie waar die seer stop nie, want die wete dat jy net nie goed genoeg was nie en net nie lank genoeg kon aanhou nie, sal lank daarna seker nog by jou spook. En dit sal seker bly; elke keer wat ‘n herinnering opgeroep word en jy eenvoudige dinge sien wat jou aan daardie maat vir wie jy só lief is (of was) sal herinner.
    Liewe Jaco, ek is so dankbaar vir jou en soveel ander mense se gelukkige huwelike. Ek kyk op na julle en ek wéns ek kon dit ook hê. Maar vir die res van ons – skei is nie vir sissies nie. Dis nie ‘n maklike uitweg of eenvoudige besluit nie. Dis ‘n geweldige uitdaging wat seermaak en ‘n kneusplek op ‘n mens se siel los wat lánk na die skeihof nog sit.

Lewer kommentaar