Eks 1 – 2:10 By God is die uitkoms seker

Lees: 1:1-10

Daar is een boodskap wat reg deur die hele Bybel loop, en dit is dat God in beheer is van elke situasie, al lyk dit soms nie vir ons so nie. Wanneer dinge op sy slegste is, bring God redding; gee Hy uitkoms. Om maar net ’n paar voorbeelde te noem:
∙ Noag en die ark – die toekoms van die hele wêreld in ’n skuit op ’n stormsee! En dit vir ’n hele jaar lank!
∙ Gideon en sy 300 man teen die geweldige oormag Midianiete
∙ Dawid met ’n slinger en 5 klippies teen die baasvegter Goliat
∙ Petrus in die tronk met 16 wagte om hom te bewaak

So sou ons kon aangaan. Die Bybel leer ons om soos Dawid te bely: Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie (Ps 18:30). En dit sien ons ook hier in Eks 1. Dinge lyk maar sleg vir God se volk. Die farao, die koning van Egipte, is vas van plan om die Israeliete in die grond in te boor. En hy het natuurlik die hef in die hand. Hy is tog die koning. En aan planne ontbreek dit hom geensins. Die een plan ná die ander bedink hy om die volk onder te kry, en elke plan is vindingryker en wreder as die vorige een. Kom ons lees daarvan:

Lees 1:11-14

Sy eerste plan was om die Israeliete deur slawe-arbeid te knak. Maar hy het blykbaar nie geweet dat ’n mens niks van harde werk oorkom nie. En buitendien: God het sy hand oor die Israeliete gehou. Hy fnuik die farao. Ons lees in v12: Hoe meer die Israeliete onderdruk is, hoe meer het hulle geword en hoe meer het hulle oor die land versprei, in so ’n mate dat die Egiptenaars baie bang geword het vir hulle.

Toe bedink hy ’n wreder plan: al die seuntjies moet doodgemaak word.

Lees 1:15-21

Maar ook hierdie keer werk sy planne nie uit nie. Die Godvresende vroedvroue wou nie saamwerk nie! As ’n mens op God vertrou, sal jy nooit met die goddelose en sondaars kan saamwerk nie. En daarom misluk plan no 2 ook klaaglik. Ons lees in v20: As gevolg hiervan het die volk aanhou vermeeder en baie talryk geword.

Toe kom die farao met ’n uitklophou: Hy gee sy eie mense opdrag om die Israelitiese seuntjies dood te maak.

Lees: 1:22

Hierdie keer sal die plan slaag, want sy eie mense ken nie vir God nie, en sal dus maak soos hy sê. Die arme Israeliete se situasie was hopeloos. Wat kan hulle teen so ’n bose koning doen?

’n Mens kan jou goed indink hoe hulle moes gevoel het. Desperaat, wanhopig, magteloos. Hulle was nie in beheer van sake nie. Hulle is uitgelewer aan die nukke en grille van ’n man wat hom niks gesteur het aan God en sy gebod nie. Miskien het jy ook al so gevoel. Miskien voel jy deesdae so as jy die verwikkelinge in ons land gadeslaan.

Wat gaan van ons word? So het die Israeliete seker ook gedink. Want hierdie keer het die farao ’n waterdigte oplossing. Of so het hy in elk geval gedink. Want wat hy nie geweet het nie en in die tye wat voorlê, nog deeglik sou leer, is dat ’n mens nie God kan dwarsboom nie. God laat Hom eenvoudig nie keer nie! Wanneer sake vir ons totaal hopeloos lyk, kan God maklik uitkoms bewerk. Kom ons lees daarvan.

Lees: 2:1-10

As jy aan God behoort, is jy nooit in ’n doodloopstraat nie. As dinge op hulle donkerste lyk, is die verlossing daar. Kyk nou net hoe wonderlik voorsien Hy: ’n Seuntjie word gebore, en God sorg dat hy nie krokodilkos word nie. God sorg dat hy deur die farao se eie dogter aangeneem word, sodat hy die farao se beskerming kan geniet, en boonop die beste moontlike opleiding in die paleis kan kry! Want God het groot planne vir Moses gehad. Moses was die man wat die volk uit die slawerny van Egipte moes uitlei na die Beloofde Land. Hy was die man wat ’n klomp slawe in ’n nasie moes omvorm. Hy moes ’n staatsman duisend wees.

Sien jy hoe God voorsien? Hoe Hy dinge beplan dat alles gebeur soos dit moet? Ons kan miskien sê dit het maar toevallig so gebeur. Toevallig dat Moses se ma die biesiemandjie nou juis op daardie spesifieke plek in die riete gaan versteek. Toevallig dat die prinses juis daardie plek uitkies om te gaan swem. Nee, nie toevallig nie. God het dit so beskik. Want God het nie sy volk vergeet nie.

Baie jare na Moses se geboorte lees ons weer van ’n Seuntjie wat gebore is, en van ’n bose koning en ’n kindermoord, hierdie keer in Betlehem. Hierdie Seuntjie was ook bestem om God se volk te verlos. Maar nie net uit die hopeloosheid van slawerny van die koning van Egipte nie, maar uit die doodloopstraat van die slawerny van die duiwel en die sonde. Hy het ook gekom vir jou en vir my, om vir ons uit die hopeloosheid van ons eie sonde te verlos. Daarom het Hy later aan die kruis gehang, vasgespyker tussen hemel en aarde, sodat die hemelse vrede wat God bring, in ons harte kan heers.

Glo jy dit? Dat Hy die Bose en die sonde oorwin het? Dat Hy Koning van jou lewe en van die hele skepping is? Glo jy dit regtig? Dan sal jy en ek mos nooit in sak en as kan sit nie! Dít is die evangelie. Amen.

Lewer kommentaar