Gen 13:1-18 OM DIE ONSIENLIKE TE SIEN

Daar is ’n ou spreekwoord wat lui: Geldgierigheid is die wortel van alle kwaad. Want rykdom en besittings het die manier om in jou hart te kom kruip, en só diep in jou hart in te kruip dat dit later jou optrede bepaal. Dit is ook wat hier in ons teksgedeelte gebeur het. Abram en Lot het ryk geword en die land Kanaän. Vers 2 en 5 spel dit pertinent vir ons uit: (lees dit)

En toe, soos dit maar gaan, het daar spanning ontstaan tussen Abram se mense en Lot s’n. Daar was net nie genoeg plek vir hulle albei nie. Die oorvloed van hulle besittings het begin om probleme tussen hulle te veroorsaak.

Nou laat ek sommer dadelik sê: As sodanig is daar natuurlik niks verkeerd met baie besittings en rykdom nie. Ook dit is gawes wat God in sy goedheid vir ’n mens kan gee. Tog leer die ervaring dat dit nie in die praktyk altyd so glad werk nie. Besittings dra inherent die kiem van versoeking met hom saam. In ons mensehande groei dit uit tot ongesonde proporsies. Dit vang ons vas en vul ons lewe sodat, voor ons ons kom kry, ons nie meer leef vir God en ons naaste nie, maar teen Hom en ons naaste. Dit is presies wat hier in ons teksgedeelte gebeur met Abram en Lot. Hulle mense begin onder mekaar stry, onder mekaar wedywer om die beste te kry. Onder die veewagters het die reël gegeld: Elke man vir homself. En as die ander een nou in die proses seerkry, is dit jammer, maar ongelukkig is dit nou eenmaal hoe dit gaan in die wêreld. Die lewe is hard, ou broer.

Julle sal weet, dit is nie so onbekend in ons eie tyd nie. Dit gaan so in die sakewêreld – die groot maatskappye druk eenvoudig almal uit die pad om die monopolie te bekom; dit gaan so in die verhoudingslewe – ’n persoon van wie ek nie van hou nie, loop ek uit die pad, ek sorg dat ek genoeg skietgoed kry om hom in die grond in te boor as die geleentheid hom voordoen; dit gaan helaas vir baie mense ook so in die politiek – ek eis alles in hierdie mooi land van ons vir myself en my eie mense op. Daarom ontstaan daar wrywing tussen die verskillende groepe in die land.

Wat doen Abram dan? Abram tree na vore as ’n merkwaardige voorbeeld van sagmoedigheid en onselfsugtigheid. Hy wil tot elke prys ’n getwis vermy. Dis nogal baie anders as wat ons hom leer ken het in Gen 12. Daar dink hy net aan homself, vertel leuens oor sy huwelik met Sarai, net om sy eie bas te red, met die verskriklikste gevolge vir die mense van Egipte – gaan lees weer Gen 12! Maar hier sien ons ’n ander Abram. Abram het gaandeweg, ook deur sy eie foute en sonde (Gen 12!) geleer om anders oor die dinge te dink. Ons sien Abram hier as ’n man van vrede, ’n man wat vyandskap en onmin tot elke prys wil vermy.

So terloops, daar is rede om te vermoed dat hierdie gedeelte so pertinent hier vertel word as ’n waarskuwing, ’n les aan die latere konings van Israel wat dikwels baie bloeddorstig was, wat oorlog en geweld as die enigste oplossing vir hulle politieke probleme gesien het – die soort standpunt wat ’n mens vandag nog by party mense hoor.

Gen 13 is opgeteken om vir die konings van Israel te leer: Daar is ook ’n ander manier om jou sake te hanteer. Konfrontasie is nie die enigste oplossing nie, en beslis ook nie die Bybelse oplossing nie. Ons sien vir Abram hier as ’n man van vrede, wat onmin en vyandskap tot elke prys wil vermy.

Die rede vir Abram se optrede lê in sy verstaan van sy roeping. God het vir Abram in Gen 11 geroep om ’n seën vir die nasies te wees. En nou lees ons hier in 13:7: “Die Kanaäniete en die Feresiete het ook nog in die gebied gewoon.” Daarom wil Abram tot elke prys ’n getwis vermy: ter wille van sy roeping in hierdie wêreld, ter wille van sy getuienis, ter wille van die seën wat hy moes uitdra na die nasies, ter wille van God! Daarom was hy bereid om homself en sy belange tweede te stel. Omdat Abram met God en met God se doel met sy lewe erns gemaak het, kies hy die pad van versoening in hierdie wêreld, ook al moes hy baie in die proses (op tydelike gebied in elk geval) inboet.

Lot het hom nie gesteur aan hierdie dinge nie; met sy geloof het sy keuses in die lewe in elk geval niks te doen gehad nie. Maar dis weer ’n preek op sy eie. Lot kies ewe selfsugtig die beste deel vir homself. En dit terwyl dit tog die senior persoon se voorreg was om te kies. Lot kies ’n gebied wat so volop water het “soos ’n tuin van die Here”, en Abram sit met ’n stuk droë, half-woestynland oor. Soos die bekende Engelse gesegde lui: “Nice guys come second!”

En tog – so staan dit in 13:14 – na dit alles sê die Here vir Abram: Kyk tog rond … na alle kante. Alles wat jy sien, gee Ek aan jou en jou nageslag. Dít is die troos en die oorwinning van die geloof. Dat God vir jou sorg. Dat Hy na jou omsien, dat Hy jou belange behartig, dat Hy self jou sake bestuur.

Abram kon grootmoedig wees, onselfsugtig wees, omdat hy God se hand gesien het, omdat hy God vertrou het, God se beloftes vasgehou het. Omdat hy geweet het God sal sorg. Hier sien ons geloof, soos die Hebreërskrywer baie jare later sê, wat die Onsienlike sien; geloof wat weet dat die lewe meer is as kos en klere; geloof wat weet dat ‘n mens nie regtig leef van brood (of besittings of enigiets wat geld kan koop) alleen nie, maar van die Woord en die beloftes van God.

Abram het nog net beloftes gehad, en tog was dit vir hom genoeg om sy lewe en sy besluite daarvolgens in te rig. Ons het soveel meer as Abram. Ons het immers die bewys dat God ons liefhet en ons nooit in die steek laat nie: Jesus Christus, Immanuel, God met ons!

Amen.

Lewer kommentaar