Gen 3:6 Sonde in die paradys

Wat in die Tuin van Eden gebeur het, is vir my heeltemal verstommend. Soos ek die ding bekyk, het Adam en Eva álles gehad wat nodig is om gelukkig en geborge en tevrede te wees. Die Bybel sê dit ook uitdruklik aan die einde van die skeppingsverhaal (Gen 1:31): God het na alles gekyk wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. In hierdie baie goeie wêreld woon Adam en Eva, en saans kom God by hulle kuier. Idillies.

’n Mens wil jouself afvra: wat het hulle besiel? Wat wou hulle dan anders gehad het?

Daar was net een ding, en dit is presies daarop wat die slang gefokus het: hulle wou hulle nie laat voorsê nie. Hulle wou sélf besluit, sélf in beheer wees, soos God wees.

Dis die kern van wat sonde is: om nie God se seggenskap oor jou lewe te aanvaar nie, omdat jy jou eie baas wil wees en jou eie besluite wil neem. Omdat jy dink jy kan op jou eie regkom.

Dit mag ’n klein, eenvoudige dingetjie wees, soos Adam en Eva, wat lus was vir ’n lekker nuwe eksotiese vrug. Watse kwaad kan dit nou doen? So redeneer die slang met Eva. En dan maak sy en Adam ’n keuse om die verbode vrug te eet.

Dit is hoe dit met alle sonde werk: dit begin by ’n keuse wat jy maak omdat jy nie tevrede is met jou situasie nie; dikwels ’n onbenullige keuse. Jy laat jou ompraat om deel te neem aan iets waarmee jy nie eintlik gemaklik is nie, want jy wil nie uit wees nie. Jy vertel ’n leuen om jou bas te red, of ’n skinderstorie om iemand af te kraak. Jy gee te veel aandag aan ’n oulike kollega by die werk, en jy oortuig jouself dis maar net om haar te mentor. Jy steel iemand se idee en jy sê vir jouself jy sou dit ook kon uitgedink het as jy net ’n bietjie meer tyd gehad het.

Sonde gaan oor keuses. Dit begin dikwels klein en amper onskuldig, maar jy talm, jy verban die idee nie onmiddellik nie, en dan begin dit op jou groei. Die slang plant ’n oënskynlik onskuldige vraag by Eva, en sy begin daaroor wonder, en kort voor lank is God nie meer die goeie, ruimhartige Gewer nie, maar ’n suinige, inhalige baas wat nie sy beste met hulle wil deel nie.

Jakobus skryf daaroor in 1:14 en 15: Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood,

Ek dink ons moet dit baie goed hoor: ’n mens kan nie sonde doen sonder dat jy dit weet nie. Sonde is die gevolg van ’n keuse wat jy maak. Ja, die duiwel is natuurlik daar om jou te verlei, en hy gebruik baie slinks maniere, maar uiteindelik is dit jý en ék wat dit gekies het. Jý het ’n verkeerde gedagte vertroetel, jý het uiteindelik daaraan toegegee omdat jy wou; omdat God en sý wil nie vir jou eerste kom nie, maar jou eie wil.

Daarom val God nie vir Adam se verskoning dat dit eintlik Eva se skuld is nie, want hy het self gekies om van die vrug te eet. En net so kom Eva ook nie los nie, want sý het die vrug gepluk, nie die slang nie.

Ons moet dit baie mooi raaksien: die gevolge van sonde is vernietigend. Sonde breek alles wat goed en mooi is, stukkend. Dit het God se hart gebreek, dit het Adam en Eva teen mekaar opgemaak, dit het hulle die Tuin van Eden gekos. Sonde het nie gemaak dat hulle ewe skielik hulle eie baas was en soos God geword het, soos die slang beweer het nie. Sonde het gemaak dat hulle hulle eie naaktheid besef het, hulle skuld voor God.

Liewe gemeente, ’n mens kan nie met sonde leef en in sonde leef en dink dit maak niks aan jou nie. Uiteindelik haal dit jou in en vernietig dit jou. Dit breek alles wat mooi is af, dit vernietig huwelike, verhoudings, lewens. Moenie dink jy gaan die eerste een wees wat skotvry daarvan afkom nie, want jy gaan nie.

Dit is nie asof Adam en Eva nie geweet het nie. Hulle het goed geweet, want God het dit vir hulle gesê (Gen 1:16,17).

Ek en jy weet nog beter, want ons het die Bybel, waarin die Here vir ons dit duidelik uitspel hoe Hy verwag ons moet lewe, en ons het die Here Jesus, wat dit vir ons kom voorleef het en boonop verduidelik het. En laat ek dit maar reguit sê: God se wet is nie maar net ’n riglyn, ’n onbereikbare ideaal waarna ons moet streef, wel wetende dat ons dit tog nie sal kan doen nie. God se wet is ’n lewenswyse waaraan ek en jy móét voldoen as ons deel van sy huishouding wil wees. Dis nie so eenvoudig om net skouers op te trek en te sê net Jesus kan dit nakom, nie ek nie. Jesus het gesê Hy het nie gekom om die wet ongeldig te maak nie, maar om dit sy volle betekenis te laat kry (Matt 5:17). Daarom moet ons die Here se wet baie ernstig opneem. Dis hoekom ons dit gereeld in die kerk moet hoor.

Die evangelie, die goeie nuus, in Genesis 3 is dat God nie die rug op Adam en Eva gedraai het nie, al het hulle Hom geminag. Hy het hulle opgesoek, nog ’n kans gegee. Só is God. Hy bly steeds by ons betrokke, reik na ons uit, help ons, sien ons in ons sondenood, en red ons uit ons nood. Daarom het Hy sy Seun gestuur, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Dit is wat die nagmaal vanoggend opnuut deur die brood en wyn onderstreep. As jy met berou voor God staan, nooi Jesus jou ook: Kom hê deel aan My vergifnis!

Lewer kommentaar