Gelowig nagedink oor die erediens (3): die aankoms

In die ou dae was die erediens ’n redelik stug affêre. Aanbidders het by die kerk aangekom, in die paadjie afgeloop (dalk agter ’n diaken aan wat plekke aangewys het), hier en daar iemand op pad na jou bank gegroet deur te glimlag of te knik, en dan in die bank gaan sit, die hoof gebuig en gebid. Die doel van die erediens is immers om God te ontmoet. Daarom die stilword voor die diens in die bank, met die gebed: “Here, ontmoet my en praat asseblief vanoggend met my ook, en gebruik die predikant.” Verder het die kerkgangers in gewyde stilte gewag dat die erediens begin, terwyl die orrelspel ’n gewyde atmosfeer geskep het.

Dis nie vandag meer so nie. Ons verstaan vandag beter dat die erediens nie net ’n ontmoeting met God is nie, maar ook die samekoms van die gemeente. Ons is saam met ander aanbidders daar, en ons deel in hulle lief en leed. Daarom is dit deesdae nie vreemd as daar koffie vooraf bedien word en daar om ’n koppie koffie ’n bietjie gekuier word nie. Dis immers deel van die gemeenskap van gelowiges, en dis goed so. Dit hang van jou tipe spiritualiteit af hoeveel hierdie saamkuier vooraf vir jou werd gaan wees. Vir party is dit min of meer die hoogtepunt van die kerk. Vir ander is dit steurend omdat dit volgens hulle afbreuk doen aan die gewydheid van die erediens.

Die antwoord lê waarskynlik iewers in die middel, en dis nodig dat ons mekaar hieroor in ag moet neem. Ja, dis goed dat ons gemakliker is voor die diens, en tyd en geleentheid skep om mekaar te ontmoet. Maar dan moet ons nie vergeet nie dat ons byeen is nie net vir ’n ontmoeting met mekaar nie, maar veral vir ’n ontmoeting met die lewende God. En om Hom te ontmoet, vra ’n soort ingesteldheid, ’n gewydheid, ’n stilword, ’n tot rus kom. Lees gerus hieroor 1 Konings 19:11-13, waar die Here God vir Elia ontmoet in die sagte fluistering van die windstilte. Persoonlik dink ek ’n mens kan moeilik die oorgang van gesellige kuier na ’n gees van aanbidding maak as jy nie tyd gebruik nie. Ons het ongelukkig nie ’n skakelaar wat jy net kan druk, en dan is jy in ’n ander stemming nie.

Daarom is die toewydingslied, of, soos ons in die ou dae gesê het, die introïtuslied, nodig. Dit is meestal nie ’n loflied nie; die loflied kom later. Dit is gebed van toewyding en afwagting; ’n lied wat die gemeente sing voordat die liturg die votum en seëngroet uitspreek. Hier kry die gemeente tyd om op God te fokus en in Hom tot rus te kom; die hart stil en oop te maak, dat God aan die woord kan kom.

Die aangrypende lied van Stuart Townend en Keith Getty, “Speak, O Lord”, verwoord dit presies reg. Hier is my vertaling daarvan:

Spreek, o Heer, want ons kom na U
om gevoed te word met u heil’ge Woord.
Skryf u waarheid diep in ons hart,
dat u beeld al meer uit ons lewens skyn.
Mag o Heer u lig in ons sigbaar word
deur ons woorde, dade en geloof.
Spreek, o Heer, en kom werk in ons
tot u doel in ons tot vervulling kom.

Leer ons, Here, gehoorsaamheid,
eerbied vir u Woord, en beskeidenheid;
vorm ons hart, denke en ons wil
om te pas, o Heer, by U heiligheid.
Gee dat ons sal glo; laat ons oë sien
hoe hoog en wyd, Heer, u almag strek.
Laat u Woord in ons harte leef
en verdryf uit ons al ons ongeloof.

Spreek, o Heer, en hernu ons hart;
ons wil graag verstaan wat u plan behels –
onveranderd staan dit steeds vas,
tot in ewigheid sal dit bly bestaan.
U beloftes, Heer, hou onwrikbaar stand,
in geloof leef ons, want U hou ons hand.
Spreek, o Heer, dat u kerk kan leef
en u Naam verheerlik kan word in ons.

Lewer kommentaar